Die BlouBlad is nie meer nie ... inelkgeval nie totdat ek kan uitfigure hoe om 'n forum op 'n google-site aaniegang te kry nie! Die werklike, betekenisvolle besprekings op die BlouBlad die laaste tyd was inelkgeval meestal deur Mtatazela en John Lane gewees wat hulle amazing musiekkennis met ons gedeel het. Dit is genadiglik nie verlore nie, want Mtatazela het geodgunstiglik sy musiek-blog Melomania beskikbaar gestel!

So ... glip gou oor na Melomania vir jou inspuiting 'goeie musiek tips' en dan kry jy sommer 'n xtra skeutjie kultuur vir jou moeite ... thrown in vi gratis! Daar is ook nou 'n BlouBlad op Facebook - vir die wat wel Facebook kan handle ... :)

Hieronder is 'n stukkie wat Katvrou oor die BlouBlad geskryf het in 'n brief aan SêNet (by LitNet), toe 'n vroeëre, bedrywige weergawe ook doodgeloop het:

19 September 2003

DIE BLOUBLAD  ...

Op Valiant Swart se webwerf was daar ’n [PRAAT] skakel. Mens kon daar gaan klets, kla, skinder, resensies skryf, gedigte lees, ontsettend kwaad raak, huil in ’n hoek, stories gooi, lieg, lag, lus raak, laf raak, verlang na vriende wat ver is, skreeu om hulp, grappe vertel, foto’s plak, wegkruip vir gister en môre, en elke dag mense raakloop wat glad nie soos jy is nie – maar ook een ding deel. ’n Passie vir Valiant se musiek. Sy CD’s gedoop Voetskoots, Kopskoot, Roekeloos, Maanhare. Boland Punk, Dorpstraat Revisited. Ons sou blaaie vol skryf oor sy musiek en alles wat plaaslik, rou, eg en slentervry in ons mense se musiek gehoor kon word.

Daar was die veterane soos Klou, Jemima, Lem, Plasticboer, Walt the Wizard, Rané, Psyche, Die Afgetrede Hatfield Nagagent, Putu, Clonti, Anena, Albert van Arabië, Die Gevleuelde Silwer Minter, Kris (uit België), Wildebees, Frances, Abel Kraamsaal, Tony G (hê-hê), Lady A, Ontug, Rotser, Sofie Stoof, Liesie, Gustav, Insider en so aan. Dan was daar ons ander wat stilletjies in geheime gange vertel is van die Bloublad – en ek was gou verslaaf as Katvrou, soms ook as Rafiki, Mufasa, TussenGanger, Fantine – die lys kon jy elke dag verander. Want agter skuilname kon jy baie dinge doen. Jy kon ander mense beledig, nedige en bytende dinge sê oor die borrelgomsangers, die stiksienige talentloses, die mense oor wie se CD’s jy wil braak. Die skuilname het ons soms in regte dom dose verander. Van die skuilskrywers is nog steeds dom dose. Dis duidelik hulle ruggrate is permanent verwyder want die skuilname bly sit, die smet klim uit hulle vieslike woorde, die selfhaat land op ’n kuberblad soos stukke vrot kankerlonge wat die wêreld volspat.

Maar ons het aanhou gesels. Soms lank verdwyn wanneer jou maatskappy se internetpolisie ’n waarskuwing moes uitreik. Maar wegbly kon ons nooit. Dit was ’n klein blou kafee. Hier kon jy van alles iets hoor. Waar die muso’s gaan optree, hoe klink hierdie nuwe CD, waar om dit en dat te kry. Hoe lyk die weer in die Kaap vandag. Wie is Kobus!? Hierdie een verjaar, daai een gaan trou. Hoe om ’n stuk plathoender mooi gaar te braai. Wat de fok is met Bush aan die gang. Die wind wat kak aanjaag in Port Elizabeth, en Kleinboer wat alweer “gescore” het. Waar mens Valiant se Maanhare kan kry, en watter boekwinkels het nog sy Veertig, die boek waar van sy beste note in woordvorm gevind kon word.

Ons het e-pos rondgestuur, die dapperes het selfoonnommers op die Bloublad geplak, ons het mekaar by kunstefeeste en musiekoptredes ontmoet en die vriendskapsbande het bly groei – tot so ’n mate dat baie van ons mekaar agter die skuilname leer ken, respekteer en liefkry het. Ons het gehelp wanneer iemand in die moeilikheid was. Baie baklei. Weer vriende gemaak. Mekaar se siele uitgetrek, klein stekies gewaag na netelige kwessies, soms gatoorkop binne-in ’n sensitiewe saak gaan trap.

Toe kom nog vars nuwes by, soos Jinger, Philanie, Anna Vier, Uhm, Su’Sara, Anargis (hy was Lem, maar blykbaar het iemand sy naam gekaap), Brixton, Em, Fascistiese Pampoen, Kleinboer, Doringdraad, Kroegvlieg, Het, Mr Bean en nog vele vele ander.

Die Praatblad is nou toe. Gisteroggend uitgevee, die tong weggesny. Iemand het verskriklike goed (soms in die nag, soms in die dag) daarop begin skryf, woorde en stellings wat soms aan die waansinnige en wou grens, lasterlike uitlatings, belaglike monoloë, ’n geradbraak van woede, bitterheid en sarkasme uit die hel.

Ek mis die Bloublad. Maar ek sit en wag vir daardie dag. Die dag wat die nuwe tong uitgroei. Paraat, sonder slym en lafhartigheid.

Valiant Swart se Bloublad. Die wêreld se grootste vistenk.

Katvrou