Hoekom is Payola Verkeerd?

Onthou julle daardie 'promosie-artikels' in tydskrifte?  Hulle is so 'feitelik' aangebied, dat as dit nie duidelik as advertensiemateriaal 'ge-lable' was nie, jy dit heeltemal anders sou takseer terwyl jy dit lees.

Daardie verskynsel is een van die redes hoekom Payola verkeerd is - jy besef nie jy luister na 'gekoopte' gewildheid nie.

Daar was 'n tyd toe 'n program met die naam 'Ster van die Week' op RSG uitgesaai is sonder soortgelyke kontekstualisering. Die feit was dat die sogenaamde ster daardie tydgleuf teen 'n moerse prys gekoop het. Jy as luisteraar is egter onder die indruk gelaat dat die energieke en toegewyde radio-joernalis (Nicky vd Berg in hierdie geval) moeite gedoen het om vir jou 'n werklike, verdienstelike ster (tenminste in sy opinie) uit die Afrikaanse musiek-uitspansel te gaan pluk het en nou vir jou kom uitstal! Na herhaaldelike gemoan het hulle dit begin kontekstualiseer, deur aan die begin van die program aan te dui dat die tydgleuf gekoop is.

Jy mag dalk argumenteer dat dit normaal en korrek is in die vryemark om jouself te bemark deur 'lugtyd' te koop. Daar is egter bogenoemde kwessie ter sprake (m.a.w dis nie duidelik dat jy adverteer nie) en ook die feit dat die lugweë nie totentaal oop is nie. Besef dat die 'eter 'n nasionale bate' is waarvoor daar beperkte lisensies uitgereik word.

Dit beteken dat jy jou gebruik van die eter moet moduleer, met 'n verantwoordelikheid teenoor die 'burgery' in al sy kleure en geure. Dit sou beteken, wat my betref, dat jy musiek gaan speel vir die mark wat jy bedien (dis oukei!), maar dat dit musiek gaan wees wat jou joggies 'ge-hunt' het daarbuite en nie wat een of ander 'record-company-mogul' die jock met 'n rol note oortuig het om te speel nie.

Gegewe dat:
  • lugweë beperkte toegang het
  • verkope direk volg op wat jy hoor oppie lug (niemand loop in cd-winkel in en vra vir iets wat hy nog nooit gehoor het nie!)
  • betaalde spelery (inconspicuous advertising) van musiek die luisteraar 'mislei'
  • 'n begin-kunstenaar sonder reuse-budget nooit op die lug sou kon kom met Payola nie
voel ek (en baie ander 'belangriker' mense) dat Payola oneties is en daarom onwettig behoort te wees in Suid Afrika.
Comments