Om een of ander rede - kan nie nou onthou wat die trigger was nie - besluit ek vanoggend om weer 'n slag na 'Sonvanger', die cd wat deur Johann Kotze in 1999 uitgegee is, te luister. Ek het altyd verskeie snitte daarvan aan vriende gespeel om te wys watse goeie goete daar in Afrikaanse musiek gepleeg word. Veral gegewe die borrelgomgemors wat daar toe (en helaas steeds), as verteenwoordigend van Afrikaanse musiek, op radiostasies gespeel is. Anyway ... toe lees ek weer die stukkie wat Gert Vlok Nel geskryf het oor/vir die album en besluit dat ek dit met my vriende móet deel ... :) So hier is dit: "Stellenbosch, die Seattle van Suid-Afrika vir rock-bands. Time Magazine het 'n artikel oor Stellenbosch gehad. Dis 'n dorp wat altyd jonk bly, unlike Worcester of Beaufort-Wes waarvandaan mens keer op keer moet wegvlug soos voor 'n spieël. Maar dis ook die oudste de facto dorp in die land. Hier bly ons. Ons sing. Ons sing die songs op die cd vir julle in die ander dorpe, omdat ons ouer as julle is en omdat ons altyd jonk is. Johann het die cd opgedroom vanuit 'n klein cd-shop in 'n minor straat met min geld. Hy het almal gebel op hul selfone vanaf 'n landlyn en hulle gesien en eenvoudig gepraat soos met drenkelinge, want almal wat op selfone praat is besig om te verdrink. So iets. (Ek het 'n selfoon vanaf April - dankie, dankie, dankie.) Ek het twee uur of minder gehad om te record, soos almal (I guess). Money was as always tight. Ek het twee takes gehad op elke song en Johann het die minste vals weergawes gekies. Mense soos Nicole sing net een keer. Buite die studio op Jürgen-hulle se plaas was die huise waarheen die cd oppad was en jou hande wat ons cd nou vashou. Mag nie deur jou hande val nie. Alles is so onherbergsaam. JOhann bly op 'n plasie buite Stellenbosch. Hy het 'n meisie Christa op pad na London. Ek het 'n meisie Lisa en 'n baby op pad na Stellenbosch. Previously wou ek ook London toe, in 'n ander jaar. Hier bly ek en Johann omdat ons musiek hier hoor, al is dit vaagweg, soos 'n oproep uit London. Ons luister intently. Netnou mis ons dit wat ons wou hoor. Johann en ek het 'n show gehad 'om Beaufort-Wes se beautiful woorde te verlaat'. Dit was 'n sukses op die 1997 Karoo Kunstefees en miskien nooit daarna nie. Everything fell apart. Hierdie was die eerste keer wat ons weer saamgewerk het. Ek het opgekyk en anderkant die klankdigte venster van die studio het Johann vir my reassuringly gesmile. Ek het my hand deur die glas gesteek en aan sy gesig gevat. Die 2de strofe van 'Rivier' is swak, het Johann gesê. Dit was somehow die mooiste ding wat hy ooit vir my gesê het, want ek was minder lonely op daardie oomblik. Want voorheen het ek gedink ek is al wat dit weet. Dankie Johann en Kingsley vir die kans. Mag die cd verskriklik verkoop en ons verskriklik ryk raak soos daai Blackie Swart ou sodat ons ook op 'Maak 'n Las' kan kom en 'Noot vir Noot'. Dit sal wonderlik wees om te hoor hoe noem Johan Stemmet ons ou Gert ou Koos ou Valiant ou Nicole ou Eugenie ou Gerhard. Sy hele ou moer. Ons is van Stellenbosch se musikante. Ons is befok. Gert Vlok Nel, 6 Julie 1999 Julians Coffee Shop" En hier is die track-listing van die album: Sonvanger track listing: Koos Kombuis 01 - Lente In Die Boland.mp3 02 - Harsteerland.mp3 Valiant Swart 03 - Almal Maak Haar Mal (akoesties).mp3 04 - Sonvanger.mp3 Nicole Holm 05 - Soms.mp3 06 - Onder In Jou Whiskeyglas.mp3 07 - Atlantis In Jou Lyf (fragment).mp3 Gerhard Geldenhuys 08 - Nagtegaal.mp3 09 - Onthou.mp3 Eugenie 10 - Rapsodie In Blou.mp3 11 - Thula.mp3 Gert Vlok Nel 12 - Rivier.mp3 13 - Tuesday.mp3 Sun Orchestra 14 - Letting Go (instr).mp3 Kry die album ... die sekerlik nou al 'Africana' ... hehehehe Gustav |
nuus >